Электронная библиотека » Gabriel Agbo » » онлайн чтение - страница 2

Текст книги "Die Krag Van Middernag Gebed"


  • Текст добавлен: 21 августа 2020, 09:00


Автор книги: Gabriel Agbo


Жанр: Зарубежная эзотерическая и религиозная литература, Религия


сообщить о неприемлемом содержимом

Текущая страница: 2 (всего у книги 18 страниц) [доступный отрывок для чтения: 5 страниц]

Шрифт:
- 100% +

Die meeste suksesvolle leraars wie al ooit ʼn onuitwisbare merk vir die koninkryk van God gemaak het, het dieselfde ervaring en stories om te vertel. Maar ons kan hulle nie almal hier noem nie. Kom ons gaan oor na die volgende hoofstuk.

Hoofstuk 2
God van Hanna

Die meeste mense wat die krag van middernag gebed ontgin is diegene wat desperaat vir God se ingryping in hul situasies is. Hulle het ʼn plek bereik waar dit vir hulle verby sal wees as God niks aan hul omstandighede doen nie. Hulle kom by ʼn kruispad aan. Voordat jy die gemak van jou bed sal verlaat en jouself ontneem van ʼn goeie nagrus om te huil en vir God te vra om by jou situasie in te gryp, dan sou jy ʼn plek van wanhoop in jou lewe bereik het. Soms laat God toe dat ons by so ʼn plek uitkom, sodat ons ons perke kan sien en om, terselfdertyd, Sy vermoë om te red en herstel te waardeer.

Kom ons kyk na die verhaal van Hanna in 1 Samuel 1:6-20:

“Maar Peninna het Hanna oor haar kinderloosheid gespot en verneder. Dit het jaar na jaar gebeur wanneer hulle na die huis van die HERE gegaan het. Dit het Hanna so laat huil dat sy nie wou eet nie…

“Op ’n keer toe hulle weer by Silo was, het Hanna ná die offermaaltyd na die heiligdom van die HERE gegaan. Die priester Eli het op sy gewone plek by die ingang gesit. Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die HERE gebid. Sy het ’n gelofte maak: ‘O HERE, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.’

“Terwyl sy besig was om te bid, het Eli haar dopgehou. Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk. ‘Moet jy dan besope hier aankom?’ sê hy. ‘Los die drank uit!’

“‘O nee, Meneer!’ antwoord sy. ‘Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die HERE oopgemaak. Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.’

“‘Gaan gerus,’ sê Eli. ‘Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.’

“‘Baie dankie, Meneer!’ antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie.

“Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die HERE aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die HERE het Hanna se versoek onthou. Sy het swanger geword en op die regte tyd geboorte gegee aan ’n seun. Sy het hom Samuel genoem, ‘want,’ het sy gesê, ‘ek het hom van die HERE afgesmeek.’”

Dit is ʼn storie wat jy seker baie goed ken. Hanna was getroud met ʼn ryk Leviet – Elkana van die gebergte van Efraim in Israel. Die egpaar het met blydskap en in harmonie geleef, maar kon nie kinders hê nie. Na ʼn paar jaar het Elkana met ʼn tweede vrou getrou – Peninna. Peninna het in die situasie ingekom en het twis, jaloesie, en bitsigheid saam met haar gebring.

Elkana se huis, wat eens vreedsaam was, het skielik in ʼn teater van oorlog verander. Die euwel van poligamie. Hanna was aan die ontvangkant. Asof dit nie genoeg was dat sy bedroef was omdat sy nie ʼn baba kon hê nie, het Peninna haar herinner aan hoe onproduktief, waardeloos, en onbegeerd sy in daardie was.

Peninna sou haar spot en selfs tart op pad kerk toe. Die Bybel sê dat Hanna, na al hierdie trauma, sou huil en huil en weier om te eet. Ek glo Hanna moes ʼn spook van haarself gewees het. Stel jou ʼn persoon voor wat heeltyd gehuil het, haarself uitgehonger het en gerou het – vir jare.

Dit was die toestand van hierdie vrou. In vers sewe maak die Bybel dit duidelik dat dit elke jaar die geval was met Hanna: “Dit het jaar na jaar gebeur.” Dit was dieselfde kinderloosheid, dieselfde bespotting, dieselfde teleurstelling, dieselfde vrugtelose pogings, en dieselfde verydelde verwagtinge. Ek bid dat elke herhalende negatiewe situasie in jou lewe verbreek sal word soos jy hierdie boodskap lees in die naam van Jesus!

Daar is mense wat vandag deur Hanna-agtige situasies gaan. Hulle gaan ʼn nuwe jaar binne met die hoop om die beste daar uit te kry of ten minste iets beter. Hulle hoop vir ʼn beter werk, ʼn beter verhouding, ʼn gemaklike huis, ʼn salige huwelik, hoër geestelike vlakke, ens. Maar die jaar eindig sonder dat hulle enige van hul verwagtinge bereik. Sommiges is jaar na jaar in daardie sirkel van mislukking vasgevang. Geen bevordering, geen deurbraak.

Hanna het met baie hoë verwagtinge in daardie huwelik ingetree. Sy het jaar na jaar gehoop hulle sal werklik word, maar het in plaas daarvan teleurstelling, bespotting, uittarting, en trane ontvang. Dank die Here dat sy besluit het om dit vir eens en altyd op te los, en sy het besluit om dit in die middernag te doen. Sy het geweet dat middernag die mees geskikte stryd terrein vir desperate mense is.

Hanna het eendag, terwyl hulle in Silo was, na aandete (in die nag) na die tabernakel toe gegaan. Daar het sy tot God gebid. Sy het na God geroep om haar toestand te verander. God is altyd bewus van wat ons deurgaan, maar die meeste kere, wag Hy om ons erns om die situasie te verander te sien. As jy gemaklik is met jou toestand sal God jou ook toelaat om gemaklik daarmee te wees. Maar as jy sal opstaan, die toestand in die oë kyk, en aan God vashou om iets daaraan te doen, sal jy beslis Sy magtige hand sien wat verlossing vir jou sal bring.

Hanna was desperaat (vers 15). En sy het besluit dat haar toestand daardie aand moes verander. Ja, totdat jy nie desperaat is nie, mag jy dalk niks fenomenaal van God ontvang nie. Hiermee bedoel ek goddelike desperaatheid.

Hanna het daardie aand na die tabernakel gegaan en gebid; “O HERE, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee”. Sy was ernstig en direk. Sy was spesifiek. Ek glo Hanna het iets soos die volgende vir die Here gesê: “God al wat ek nodig het is ʼn seun en U gaan dit nog vanaand vir my gee. Genoeg is genoeg!”

Ek hoop dat jy iets uit Hanna se gebed geleer het. Sy het begin deur die almag van God te herbevestig. Alhoewel sy besig was om deur ʼn verskriklike situasie te gaan, was God nog steeds die Almagtige. Alhoewel sy in diep angs en pyn was, en bitterlik gehuil het, was God nog steeds die Almagtige. Hy bly almagtig, alomteenwoordig en die Allerhoogste. Ons probleme moet nie ons siening van God se almag, sorg, liefde, genade, en soewereiniteit verduister nie.

Hy bly God en sal altyd in beheer wees. Geen situasie kan Hom verander nie. Hanna het gesê: “O HERE, Almagtige.” Onthou dan ook, wanneer jy in middernag gebed ingaan, gaan met spesifieke gebede (tensy jy ʼn ander gebed rhema langs die pad ontvang het). God wil hê ons moet spesifiek en georganiseerd wees.

Na daardie aand se ontmoeting met God by die tabernakel, en die profetiese woord van die Priester Eli, was Hanna bly en het begin om weer gesond te eet. Sy het nie nodig gehad dat enige iemand bevestig dat haar gebed beantwoord was nie. Een van die dinge wat jy sal agterkom ná ʼn middernag ontmoeting met God is dat jou laste sal lig. Jy sal die volgende dag vol vertroue en vol van God se teenwoordigheid binnegaan. Dit was waarom ek vroeër gesê het dat ʼn middernag kampioen onoorwinlik is. Dit bou hoop en vermoë om vir God se beloftes en tydsberekening te wag.

Hanna het op die regte tyd geboorte aan ʼn seun geskenk. Nie ʼn gewone seun nie, maar een van die wonderlikste profete wat ooit geleef het. God het ook ander seuns en dogters vir haar gegee. Groot verwagtinge sal deur middel van middernag gebede plaasvind. God het vir Hanna geseën. En in plaas van smart, pyn, en bespotting, het Hy ʼn nuwe lied in haar hart geplaas. Ek sien hoe God vandag ʼn nuwe lied in jou hart sal plaas soos jy in middernag gevegte ingaan. In 1 Samuel 2:1-2 het Hanna gesing:

 
“My hart is bly in die HERE!
Kyk hoe het die HERE my geseën!
Nou kan ek my vyande antwoord
terwyl ek my verbly oor U verlossing.
Niemand is heilig soos die HERE nie!
Niemand is U gelyke nie;
daar is geen Rots soos ons God nie.”
 

Hoofstuk 3
Paulus en Silas

Middernag gebed is die sekerste terrein waar sataniese bindinge en beperkings verbreek kan word. Dit maak nie saak hoe sterk en moeilik die jukke is om te verbreek nie, hulle kan nie aanhoudende en langdurige middernag gebed weerstaan nie. Die duiwel weet dit baie goed en dit is hoekom hy alles sal doen om jou te ontmoedig om in die middel van die nag te bid. Middernag is soos ʼn geestelike hoofweg en soos ek al genoem het, die meeste van die dinge wat met ons gebeur word in ons lewe in geprogrammeer gedurende hierdie tyd. So, wanneer jy ook opstaan en veg gedurende hierdie tyd, neem jy deel in die besluite van wat met jou lewe gebeur.

Daar is so baie mense wat met sataniese bindinge leef vandag. Daar is so baie individue, gesinne, en groepe wat onwetend sukkel met sataniese jukke. Daar is miljoene mense wat rondloop met geestelike gebonde hande en bene met kettings van kragtige sataniese magte. Ek weet dit sal vreemd klink vir sommige mense, maar dit is ʼn feit. Dit is ʼn geestelike saak. Jy kan net bewus wees hiervan as die Gees van God kies om jou te wys.

Ek het onlangs ʼn vrou wat ek al vir meer as 34 jaar ken in ʼn openbaring gesien, gebind met kettings – haar hande en bene. Ek was geskok. Indien ek nie seker was dat die visie van God afkomstig was nie en dat ek persoonlik deur dieselfde ervaring gegaan het nie, sou ek dit betwyfel het. Wat sedert in die lewe van die vrou plaasgevind het is ook ʼn bevestiging van daardie openbaring. Sy het nog nie deurbraak ervaar vandat ek haar ken nie.

Wanneer jy meerjarige probleme in jou lewe of in jou familie beleef; jaar na jaar staan jy voor dieselfde soort probleme, of jy voel dat jy verhinder word om sekere perke in die lewe te oorkom, dan is dit raadsaam om te bid en die Here te vra om jou te wys wat die bron van jou probleme is. In die meeste gevalle is dit die werk van Satan en die agente van sy donker koninkryk.

In Afrika, en ook in sommige ander dele van die wêreld, is dit nie vreemd om te hoor dat agente van duisternis bestemmings, vrugbaarheid, vooruitgang, of selfs mense se gesondheid in die geesteryk vasketting nie. Slagoffers van sulke sataniese manipulasie sal regdeur hulle lewens sukkel.

Hulle sal alles menslik moontlik doen om deurbraak in hierdie lewe te hê, maar hulle sal nooit slaag nie. Sommiges sal selfs geprogrammeer word om nie te trou of kinders te hê nie, of self om miskrame te hê. Al hierdie gebeur. Ons sien dit nie net in die lewens van ongelowiges nie, maar ongelukkig ook by gelowiges. En ek glo dit gebeur omdat die kerk van vandag nie in die volheid van die krag van God lewe nie.

Ons gaan kerk toe en het gemeganiseerde dienste sonder Sy salwing. Onthou, die woord van God sê dat die salwing (die teenwoordigheid van God) elke juk verbreek. Maar het die kerk van vandag die salwing? Ongelukkig is die kerk vandag vas aan die slaap en onthou dat Jesus gesê het dat die vyand kom om onkruid te saai terwyl jy slaap.

Middernag gebed is een van die maniere wat God sal gebruik om die krag en salwing terug te gee aan die kerk en ook aan individuele Christene. En wanneer hierdie krag kom, sal dit elke juk, elke ketting, en elke sataniese vesting verbreek. Kom ons kyk in die Bybel waar en hoe die kettings van die vyand verbreek is deur middernag gebed.

“Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!”

Handelinge 16:23-26

Jy ken seker die bogenoemde storie. Paulus en Silas het ʼn verlossingsbediening in Filippi gedoen wat hulle in die moeilikheid laat beland het. Hulle was geslaan, gebind met kettings, en is in die binneste put van die gevangenis gegooi. Hulle was in ʼn ondergrondse tronksel. Dit is wat hoofsaaklik in daardie dae gebruik is. Die tronkbewaarder het ook opdrag gekry om seker te maak dat hierdie manne van God nie ontsnap het nie. Dit is presies wat Satan en sy agente aan mense in hul ballingskap doen. Hulle mors met hul slagoffers en hou hulle as gyselaars. Soos ek vroeër gesê het, daar is baie mense wat met sataniese kettings gebind is vandag. Miljoene regoor die wêreld!

Hierdie mense beweeg rond soos normale mense, maar wanneer jy hulle in die gees sien is hulle gebind met voetboeie. Dit word gewoonlik gedoen deur toordery en ander demoniese manipulasies. Die slagoffers van hierdie soort sataniese invloed sal hul lewens lei sonder enige betekenisvolle sukses, tensy daardie voetboeie verbreek word. Sommiges se bestemmings sal deur die vyande toegesluit word. Hulle sal mooi drome hê en hard werk, maar hulle sal dit nooit bereik nie.

Ander se besighede, baarmoeders of huwelike sal nou weer toegesluit word. Ons het ook al gevalle gesien waar projekte (soos geboue) deur middel van hierdie soort manipulasies gestop was. Hulle sal eenvoudig ʼn persoon se bron van inkomste kreupel of hulle aanval met ʼn ongeneeslike siekte, en dit sal die einde van die projek wees.

Daar is ander wat reeds gebruik is vir geld rituele, offers ens. Alhoewel hulle nog lewe, sal hulle as swaksinniges vir al die dae van hul lewe leef. Ander word gemanipuleer om sondige gewoontes aan te neem soos om te drink, steel, dobbel, hulself te prostitueer, dobbel ens., en sal uiteindelik vernietig word. Ons sien ook mense wat deur demoniese geeste gebind word byvoorbeeld mariene geeste, voorvaderlike geeste, territoriale geeste, gewelddadige geeste ens. Ons sien selfs ʼn paar in die Bybel.

Sommige van hierdie dinge mag dalk vreemd klink, maar dit is baie waar! Daar is geen beperking op die bedrywighede en ongeregtigheid van die koninkryk van duisternis nie. En elke omgewing het sy eie eienaardige situasies. Ons het op ʼn stadium ʼn geval gehad waar ʼn dame van Afrika in haar laat dertigs met ʼn baie sterk demoniese entiteit getrou het wat haar al die pad uit Indië besoek het. Ek het hierdie dame persoonlik bedien.

Hierdie demoniese entiteit het met ʼn onsigbare vliegtuig gekom wat slegs hierdie vrou kon sien. Onmiddellik as die vliegtuig geland het, sou ʼn wit man daaruit kom om by haar te bly. Daarna sou dit teruggaan vanwaar dit gekom het. Dit het dit onmoontlik gemaak vir hierdie pragtige dame om te trou of selfs om skool toe te gaan. Stel jou voor, op daardie ouderdom kon sy nie basiese rekenkundige of grammatika snap nie. Sy het ook aan geheueverlies gelei. Dit was haar situasie totdat daardie juk verbreek was.

Ons sien gereeld hierdie gevalle in verlossing sessies. Die bedrywighede van die koninkryk van duisternis is so groot en vreeslik dat jy soms gevalle sal teëkom wat moeilik is om te verstaan. Sommige mense is deur Satan vasgeketting en demone is aangesê om oor hulle te waak net soos met die tronkbewaarder beveel is met Paulus en Silas. Enige demoniese entiteit wat beveel is om oor jou te waak sal van vandag af verblind wees, in Jesus se naam!

ʼn Mens kan in die kerk wees en nog steeds ʼn slagoffer van sataniese voetboeie wees. Wanneer jy in sonde leef, tree jy in sataniese bindinge in. Voorvaderlike skakels of bose pyle kan ook na dit lei. (Lees meer hieroor in my boek Breek Familievloeke: Eis Jou Vryheid) Waar jy ook al inpas, God het belowe om die kettings te verbreek en jou vry te maak. In Jesaja 61:1 sê Hy:

“… om vir die gevangenes vryheid aan te kondig, en vrylating vir dié in die tronk.”

Hy het ook dieselfde gesê in Jesaja 49:24-25:

“Kan die buit van ’n soldaat uit sy hande gesteel word, of ’n gevangene uit die bewaking van ’n betroubare persoon? So sê die HERE: ‘Die gevangene gaan bevry word en die buit gaan afgeneem word.’”

Prys die Here! As die bogenoemde jou situasie beskryf, dan is dit tyd om in die middernag wakker te word en vir jou bestemming te veg. Dit is ʼn baie ernstige saak. Jy moet dit met geweld doen. En jy moet nie ophou totdat die kettings van die vyand gebreek is en jy al jou seëninge teruggewen het nie. Doen dit nou!

Paulus en Silas het in die middernag opgestaan, tot God gebid en gesing, en wat was die uitslag? Daar was ʼn aardbewing en die kettings om hul hande en voete was verpletter. Hulle het afgeval! Ek het nog geen groter krag as dié van lof en gebed in die middernag gesien nie. Geen ketting van die vyand kan dit weerstaan nie. Dit is waar. Die tronk deure was oopgedwing. Jy kan dit probeer. Prys die Here vir ure aaneen elke aand en sien hoe jou lewe sal verander. Jy sal onmiddellik ʼn bonatuurlike wese word.

Ek het al reeds genoeg kommentaar oor hierdie ‘tweeling geestelike dinamo’s gemaak in hierdie boek en in ander. Jy sal nog oor baie skokkende openbarings, deur voormalige okkulte meesters, en die gevolge daarvan in die geestesryk lees.

Dit is nie net individue wat deur sataniese kettings gebind kan word nie. Gesinne, dorpe, stede, lande, en selfs kerke kan ook gebind word. Die primêre doel van die donker koninkryk is om mense weg van die lig van die evangelie te hou, om hulle van God se seëninge te ontken, en om permanente beheer oor hulle te hê. Ons het ook vroeër gesê dat die duiwel nie wil hê dat die mens ʼn goeie verhouding met God moet hê nie. En dat hy weet wat die voordeel van hierdie verhouding is, want hy het dit eens op ʼn tyd geniet. Hy is jaloers op die posisie van die mens in God se program. Hy haat die mens en sal gevolglik alles moontlik doen om hom in ewigdurende slawerny te hou.

Op die familie vlak is daar baie mense wie in verskriklike slawerny leef. Sommige is slawe van siekte, mislukking, en armoede. Ander het sondige gewoontes. Sommiges ly as gevolg van die aanvalle of bose pyle wat in hul gesinne in geskiet is deur agente van die donker koninkryk. Ek ken ʼn familie waar drie van hulle kranksinnig is. Ander gesinne het sataniese jukke op hulself geplaas deur hul eie aksies, naamlik aanbidding en offers aan demoniese geeste. Sommiges het selfs altare vir hierdie valse gode in hul huise. Sommige ouers het ook hulle kinders toegewy of bekendgestel aan die aanbidding van demone. Al hierdie trek kettings en slawerny aan.

As jou ouers of voorouers afgode of duiwels gedien het of enige vorm van okkultisme beoefen het, dan is daar ʼn dringende behoefte vir jou om ʼn bevrydingsproses te ondergaan, sodat die sataniese kettings oor jou lewe gebreek kan word. Jy kan nie die duiwel dien sonder dat hy jou gevange sal hou met sy voetboeie nie. Deur aanhoudende middernag gebed kan jy weet dat sataniese jukke en verbonde in die gesin verbreek kan word.

Daar is ook stede, dorpe, en lande wat met sataniese kettings gebind is en wat in die vyand se tronke aangehou word. Jy kan dit sien deur hoe mense leef, wat hulle aanbid of deur die dinge wat in daardie omgewing gebeur. Daar is plekke waarheen jy gaan waar jy dadelik die demoniese geeste wat in werking is kan onderskei. Ander aanbid verskillende demoniese territoriale geeste en owerhede.

Ek weet van ʼn dorp in die oostelike deel van Nigerië wat ʼn demoon dien wat in ʼn meer woon. Wanneer dit tyd is om ʼn offer aan hierdie demoon te maak, sal die hoofpriester ʼn lewendige bok na die meer neem. Daar sal die man die dier naby aan die oewer van die meer neem, terwyl hy die tou om die bok se nek vashou.

Dan sal hy ʼn paar inkantasies doen en dan kom daar dadelik ʼn visagtige wese uit die water en begin nader aan die bok beweeg. Sodra dit by die bok kop, kap dit die bok se kop af en swem terug daarmee. Dan sal die dienaars begin om te juig dat die afgod hul offer aanvaar het. Hulle sal terugkeer huis toe om fees te hou met die oorblywende vleis; wat hulle sal kook en eet.

Ander mense aanbid afgode wat in die woude, in die bome, in die berge, ensovoorts woon. Ek weet van sommige dorpe wat nog slange, ape, krokodille, en luislange aanbid. Hierdie reptiele kom in hul kamers in en bly daar. Hulle word altyd as spesiale gaste beskou. Hulle kan op jou bed lê of selfs net in jou kombuis hang en na jou staar. Hulle mag nie seergemaak, berispe of doodgemaak word nie. Gaan na die Idenmili gebied van die Anambra Staat en jy sal dit sien gebeur.

Daar is ook territoriale geeste wat in mense woon, veral in sielsiek mense. Al hierdie geeste hou hierdie plekke en mense in slawerny. Hulle hou hierdie gebiede in kettings en totdat hulle uitgedaag en verdryf word, sal die inwoners van hierdie plekke met die juk van die vyand sukkel. (Ons sien dit in Markus hoofstuk vyf).

Sommige van hierdie geeste verhinder ontwikkeling, vooruitgang, en selfs die evangelie. Die oplossing is om hierdie demoniese magte met middernag gevegte aan te vat. Soms sal hulle jou weerstaan en jou selfs dreig. In sommige gevalle sal dit baie aande neem. Maar as jy jou man staan en voortduur, sal hulle uiteindelik buig en gedwing word om te vertrek. Maar jy moet bereid en vasbeslote wees. Die Bybel sê die volgende in Efesiërs 6:10-12:

“Vind krag in julle verbondenheid aan die HERE, ja, in die krag van Sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

“Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.”

Ek hoop hierdie boodskap is baie duidelik? Die vyande waarteen ons baklei is ʼn gedugte en hoogs georganiseerde mag. So jy moet weet waar jy staan met God en die dinamika van die oorlog voor jy dit binnetree. Ons sal later meer inligting gee oor hoe om voor te berei vir hierdie gevegte.

Kerke en bedienings kan ook deur sataniese kettings gebind word. Dit mag dalk vreemd klink, maar dit is waar. Demoniese magte kan ʼn kerk terug hou wat nie in die volheid van die krag en die gees van God beweeg nie. En dit is baie maklik om sulke kerke te identifiseer. Die simptome is: ʼn gebrek aan heiligheid, ʼn gebrek aan ontwikkeling (fisies en geestelik), en ʼn vinnige afname in lidmaatskap, stagnasie, konstante twis en haat onder die lede en selfs onder die predikante. Al die bogenoemde vind in ʼn paar van ons kerke vandag plaas. Dit word deur magte van die duisternis veroorsaak; om seker te maak dat die geaffekteerde kerke nie God se program vir hulle vervul nie.

Die duiwel weet baie goed dat ʼn verenigde kerk die kanaal is waardeur God Sy wil wil versprei, verlore siele red, Sy krag vertoon, en uiteindelik die vyand verneder. So sal hy alles doen om te keer dat die kerk uitbrei en dat dit ook in permanente verwarring gehou word.

Ek het eens ʼn kerk in die olieryke stad van Port Harcourt, Nigerië bedien. Die kerk het vir 13 jaar bestaan voordat ons daar aangekom het. Hulle gebou, wat nie te groot was nie, was nog nie voltooi nie. Daar was geen deure, vensters of ʼn plafon in die kerk nie. Die lidmaatskap was besig om vinnig af te neem. Daar was slegs ʼn paar vriende van dieselfde stam wat aanhoudend na die kerk toe gekom het. Die krag van God was nie daar nie en baie min mense het vooruitgegaan in die kerk. En nie net dit nie, maar die lede en predikante het in onsedelikheid geleef en heksery beoefen, selfs in die kerk.

Ek onthou een keer toe ons gebed span ʼn nagwaak gehou het en ek skielik aangekondig het dat iemand in ons midde (ʼn jong man) okkultisme beoefen het en toorgoed na die plek toe gebring het, maar nog steeds saam met ons kom bid het. En dadelik het die senior pastoor my onderbreek en my herinner dat hy nog in beheer was. Hy het dieselfde lewe as die jong man geleef – in onsedelikheid en heksery.

Maande later was dieselfde man beskuldig van verskeie onsedelike dade en nog erger; hy het beplan om my te vergiftig omdat ek hulle duiwelse en onsedelike aktiwiteite ontbloot het in die sogenaamde huis van God. Maar God se krag, teenwoordigheid, en genade was met my. Dit het hulle weggehou. Trouens, die man het die gif verkry, maar die Gees van God het vir my gewys dat hy bang was om dit te gebruik. Ja, Hy beskerm die wie Hom vrees!

Jy het nie nodig dat ʼn profeet vir jou vertel dat dit heeltemal ʼn dooie kerk was nie. Dit was ʼn kerk met ʼn pragtige naam, maar was gebind deur die magte van die duisternis. Toe ons daar aangekom het, het God ons gelei om ʼn gebed– en bevrydingspan te vorm. (Dit is noodsaaklik vir elke kerk om ʼn staande en gedugte gebed– en bevrydingspan te hê). Ons het begin om elke aand bidure te hou in daardie plek. Soms het ons deur die dag gevas en dan kerk toe gegaan om deur die nag te bid. En hiermee bedoel ek ware voorbidding. Ons het dit vir ʼn paar maande gedoen.

Wat was die resultaat? Die krag van God het in die kerk ingekom. Die kettings en jukke van Satan was van die plek afgebreek. Die magte van duisternis was weggejaag, maar nie sonder heftige weerstand nie. Maar God het oorwin. Wonderwerke, tekens, wondere, en kragtige verlossings het begin plaasvind in daardie plek.

Gevolglik het die lidmaatskap vinnig begin groei. Die eens dooie kerk het herlewing beleef. Die gebou was voltooi en die lede het geweldige voorspoed ervaar. Die lede was ook meer toegewy aan God. Dit is wat middernag gebede kan doen. Trouens, ons het dieselfde programme by ander kerke toegepas en het dieselfde resultate gekry. Die heerlikheid, krag, en seëninge van God sal kom wanneer die kerk leer hoe om die krag van middernag gebede te ontgin.

Kom ons gaan terug na Paulus en Silas toe. Hulle was vreeslik geslaan en in daardie gevreesde ondergrondse sel gegooi. Die Bybel sê dat omstreeks middernag het hulle begin om te bid en tot eer van God te sing. Dit was ongewoon! Mense wat erg geslaan was met houtstokke het besluit om liedere en lof te sing, in plaas daarvan om hul wonde en pyn te koester. Wanneer ons God op ʼn ongewone manier dien, in ʼn ongewone omgewing, sal Hy begin om ongewone dinge te doen ter wille van ons. Dit is waar!

Ek glo dat dit slegs iemand wie met die Heilige Gees gevul is en wie heeltemal uitverkoop aan God is wat in so ʼn ondraaglike, vernederende, hartverskeurende, en uiterste situasie vir God kan sing en loof.

Wat doen jy wanneer die vyand jou aanval? Huil jy en blameer almal, God ingesluit? Of kniel jy voor die vyand en kyk vir ʼn manier om te ontsnap; selfs al beteken dit om jou geloof te ontken? Ons moet vir God vra om ons ʼn gees van moed en geloof te gee, selfs in die aangesig van lewensgevaarlike situasies. Die Bybel sê dat God nie vir ons ʼn gees van lafhartigheid gegee het nie, maar van krag.

My volgende vraag is dan, waarom sou hierdie manne van God tot middernag wag om te doen wat hulle gedoen het? Ek glo hulle moes iets geweet het oor die krag van middernag gebede. Hulle moes geweet het dat die beste tyd om die groot gevegte van die lewe te veg om middernag is en dit is ook moontlik dat hulle dit voorheen ervaar het. Alles gesê en gedaan, die apostels het darem gehou by wat hulle by hul Meester, Jesus, geleer het. Hy was ook bedrywig in die middernag ure.

Die twee manne het gesing en gebid. En dit is die twee belangrikste ondernemings tydens middernag gevegte. Ons sal hulle een vir een ondersoek. Die eerste een is gebed.


Страницы книги >> Предыдущая | 1 2 3 4 5 | Следующая
  • 0 Оценок: 0

Правообладателям!

Данное произведение размещено по согласованию с ООО "ЛитРес" (20% исходного текста). Если размещение книги нарушает чьи-либо права, то сообщите об этом.

Читателям!

Оплатили, но не знаете что делать дальше?


Популярные книги за неделю


Рекомендации